Plaasdiere

Ons praat kiekies

“All photographs are accurate. None of them is the truth.”Richard Avedon

Ja, straks ‘n vreemde aanhaling vir ‘n blog oor plaasdiere, maar dit is eintlik ‘n kardinale grondbeginsel van stories vertel – met of sonder woorde.
In die Covid 19-tyd is inligting en die legio media (pype) waardeur dit kom (skeef en krom), ‘n perfekte illustrasie van halwe waarhede. Die storie speel voor die storieverteller af en die storieverteller kies – met goeie of minder goeie bedoelings – om sommige besonderhede uit te laat en om ander weer te beklemtoon.
Presies soos met foto’s.
Jy kan ‘n besige of onooglike omgewing kies en jou hoek só bepaal dat die minder goeie konteks verlore gaan en dit ‘n totaal ander geromantiseerde prentjie word.

Maar dit is die wonder van fotografie en dit is waar die plasing van jou plaasdiere op die plaas die wêreld se verskil kan maak en jy die leser doelbewus, en dikwels dan met goeie bedoeling, bietjie om die bos kan lei. Dis immers jóú storie.
In amptelike fotografiekompetisiekringe is daar oor jare riglyne uitgewerk waaraan bv. foto’s van wilde diere moet voldoen. Al is daar debatte daaroor, word die insluit van menslike en mensgemaakte elemente grotendeels verbied of afgeraai. Gelukkig met plaasdiere is dit nie die geval nie.
Wilde diere is, presies wat dit sê: Wild. Dis baie moeiliker om af te neem of naby genoeg te kom sonder ‘n ekstra sterk zoemlens en eintlik ure se wag en geduld.
Mak diere soos plaasdiere (en sommige van hulle kan maar nog steeds redelik menssku wees – probeer maar langs die pad stilhou by ‘n klomp skape ek kyk of hulle net so gaan bly staan tot jy opgestel is om ‘n foto te neem) is dikwels veel nader en darem meesal makliker om met minder duur toerusting af te neem. Maar jy kan steeds jou zoemlens met vrug gebruik.

Onhou net die goue reël. As jy uit die hand uit skiet, kies ‘n sluiterspoed van vinniger as 1 op die totale fokusafstand (faktor jou “crop”-sensor in – bv. 200mm Zoom maal 1,5 (nikon) of 1,6 (canon) gee ‘n sluiterspoed van 1/320 of vinniger) om kamerabeweging teen te werk. As jy nie ‘n driepoot het nie. Daar is baie pale en ander goed op plase waarop jy dooie rus kan neem of mure waarteen jy kan aanlê om ook kamerabeweging teen te werk. Dan kan jy met ‘n stadiger sluiterspoed wegkom.
Reëls. Nee. Vergeet van reëls. Dit hoort nie in enige vorm van kuns nie. As jy aan ‘n kompetisie wil deelneem. Ag, nou ja. Daar sal om klaarblyklike redes altyd ‘n klompie reëls wees.

Maar daar is darem ‘n hele klompie riglyne en hulpmiddele/visuele boustene wat in die meeste gevalle positief tot kuns bydra.
Só is die hoek van waar jy jou kiekie maak, een van die heel belangrikste oorwegings. Net soos ‘n baba of klein kindjie wat van bo afgeneem word, altyd aan grootkopsindroom sal ly, geld dieselfde vir cute klein lammetjies of kalfies.


As jy ‘n ensiklopediekiekie van ‘n simmentaler-kalfie wil neem, mik jy vir ‘n skoon foto om soveel moontlik van die dier so duidelik moontlik met so min as moontlik skaduwee of baie ligte kolle daarop.
Maar as jy ‘n foto soek wat meer aandag trek en so ‘n bietjie meer van die dier se karakter wys, kyk straks na een met ‘n besondere gesiguitdrukking en dalk bietjie kantbeligting om die gesig te laat uitstaan. As jy dan laer hoeke (amper van die grond af) kies, kan jy die agtergrond ook begin manipuleer.

Hier kan ‘n groter lensopening (klein f-stop) jou ook baie help om die dier van die agtergrond te isoleer. ‘n Agtergrond goed uit fokus is soms selfs beter om die diere in hul omgewing te wys as ‘n kaal agtergrond.
Probeer maar weer in die oggend of laatmiddag in die goue ure of net buite dit om die harde kontraslig te vermy. Die lig is dan net soveel warmer. Sagte lig werk goed om sagter emosie in ‘n foto te help skep. Dit gee dikwels ook aangenamer kleure.
Dit gesê, kan ‘n foto in totale skaduwee en of bewolkte weer maklik eentoniger raak as een met ‘n bietjie kantbeligting of ligter dele en skaduwee op ander plekke.
Interaksie of enige vorm van aksie werk ook dikwels teenoor ‘n statiese dier. Dan moet jy net seker maak jou sluiterspoed is vinnig genoeg as jy die aksie sou wou vries. As jy genoeg tyd spandeer met die diere, sal hulle nie later net van jou vergeet nie, maar jy sal ook hul interaksies begin sien en dit kan baie interessante foto’s help maak. Interaksie tussen ‘n vroulike dier en haar kleintjie wek bv. ook altyd emosie.

Fokus. Probeer maar altyd die dier of jou onderwerp so goed moontlik in fokus kry, anders dwaal kykers se oë.
Soos met tweebeendiere is die algemene gevoel ook maar dat jy altyd die oog of oë van ander diere in fokus probeer kry. Al is dit net riglyne, trek ‘n oog in baie gevalle instinktief die kyker se aandag heel eerste.
Om teen die lig in te neem kan tot ‘n silhoeët lei. Maar selfs dit kan uitstekende foto’s maak as jy dit beplan.
Die wonder van ‘n tema soos plaasdiere is dat jy na hartelus kan redigeer ná die tyd. Jy kan die ‘mood’ ‘n bietjie verander. Jy kan ook elemente insit of uithaal. Daarvoor moet jy maar net seker maak dat dit nie duidelik is of steurend nie. Verg dikwels ‘n klompie tyd met sagteware spandeer om dit baas te raak, maar dit kan (as dit reg gedoen word) die wêreld se verskil aan jou foto maak. En ja, daar is inderdaad gratis sagteware waarmee jy ver kan kom met redigering.
Ligte en donker diere op een foto is nogal ‘n uitdaging – die swart kan maklik net ‘n swart kol raak en so kan wit heeltemal weggewas word. Dit is in so ‘n geval makliker om jou foto’s in sagter lig met minder kontras te maak.


Baie plaasdiere kan maar valerig wit of bruin of swart wees en kleur is nie altyd ‘n sterk element nie. Maar op sommige plaaswerwe is daar groene en rooie en gele wat jy subtiel kan inwerk vir ‘n bietjie meer kleur en sommige pluimvee het darem ook meer kleur. Ek is seker pluimvee sal ook as plaasdiere kwalifiseer.
Al vertel die plaas van ‘n dier in sy of haar plaasomgewing ‘n storie, kan ‘n naby foto ook groot impak hê. Onthou net as die onderwerp plaasdiere is, moet die dier of diere darem ‘n groot genoeg deel van die foto wees anders kan die tema maklik plaas wees en die klem van die diere wegtrek. Daar is egter uitsonderings en is dit ook ‘n kwessie van opinie.

Al is nabyportrette nie altyd die beste opsie nie, kan dit besondere karakter wys en amper intimiderend wees. Die fotojoernalis Robert Capa is bekend vir sy aanhaling:”If your pictures aren’t good enough, you aren’t close enough.”

So ja. Gaan bos of gaan plaas.
Lekker kiekies maak

tot ‘n volgende keer
Kiekiegroete
JBertoV

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

error: © Content is protected !!