Inanimate objects

Ons praat kiekies

“There are no rules. That is how art is born, how breakthroughs happen. Go against the rules or ignore the rules. That is what invention is about.” – Helen Frankenthaler

In die winterkoue, só voel dit, het die lewe uit als gewyk om verkrompe en leweloos net so te bly. Maar dit is mos darem nie heeltemal so nie. Tóg voel ‘n tema van lewelose onderwerpe so gepas in hierdie seisoen.
Al sal my en jou definisies van haas elke ding straks altyd effe van mekaar verskil, is die algemene konsensus oor “inanimate” waarskynlik leweloosheid. Iets wat nooit gelewe het nie, maar is dit ook iets wat nie meer lewe nie? Wel, your guess is as good as mine en as jy ‘n kiekie van ‘n dooie blom (en hoe bepaal jy nou die dood van ‘n dooie blom as jy hom/haar nie eers dissekteer nie) of ‘n dooie boom wil inskryf, hoop ek die beoordelaar deel hierdie sentiment, want waar gaan jy die streep trek?

Die houttafel… het dit dan nie ook eens gelewe nie…? En klippe… waar kom dit dan vandaan? Water. Wel, as jy water wil afneem, is dit maar eintlik so half niks en as dit na iets begin lyk, is dit moontlik die lewe daarbinne wat jy raaksien… of is dit? Maar dít oor die onderwerp.
Die voordeel van iets wat nie lewe nie, is dat dit nie self kan beweeg nie (wel ek wonder of ‘n jagende motorfiets werklik leef???) Maar om veilig te speel, hou maar by ‘n stil onderwerp. Daardie wat stil staan of stil lê of stil sit (amper soos in ons kinderdae in die kerk, toe daar nog op die kerk nie ‘n getalperk was nie). Klippe of mensgemaakte goed.

‘n Stil onderwerp kan, soos met tafelbladfotografie, ook in meer beheerde ligomstandighede afgeneem word.
As jy ‘n foto van ‘n lewelose onderwerp wil maak, het jy gewoonlik tyd omdat dit nie weg kan beweeg nie. Jy kan dus dikwels ook wag vir die lig om te verander
Jy het gewoonlik ook die geleentheid om van verskeie hoeke af foto’s te maak. En doen dit. Neem maar jou eerste foto, maar beweeg dan om of draai die onderwerp om sodat die lig die beeld van die onderwerp van ‘n ander hoek af tydelik op jou sensor (digitale hergebruikfilm) kan inbrand. Verf dan ‘n bietjie met daardie lig.
Dit is ook so dat omdat daar meer beheer moontlik is en dit in ‘n mate as makliker beskou word, dit dikwels ook meer spesiale aandag en beplanning verg om ‘n unieke foto te maak met iets soos ‘n unieke hoek, of beligting of selfs redigering.

Die basiese beginsels – visuele boustene – sluit in kleur en vorms, tekstuur en komposisie (plasing van ‘n onderwerp). Tekstuur kan ‘n waardevolle bousteen wees met lewelose onderwerpe. So ook eenvoud of herhaling. Al is die plasing van ‘n onderwerp weg van die middel dikwels sterker, kan doelbewuste simmetrie ook ‘n baie sterk komposisie wees.
Daar is spesialis-produkfotograwe wat meesters is in die beligting van produkte. Om kunsmatige lig eerder te bons as direk, versag die lig en kan weerkaatsings beperk. Of dalk wil jy juis weerkaatsings hê. Ook kantbeligting kan die tekstuur en karakter van die onderwerp meer laat uitstaan.

Ongewoon sal altyd meer aandag trek.
Onthou ‘n driepoot of ‘n muur of ‘n paal waarop of waarteen jy jou kamera of jouself kan plaas om nie net kamerabeweging te beperk nie, maar ook om jouself net ‘n bietjie stadiger te maak sodat jy ‘n rapsie meer ag slaan op komposisie en dit wat jy op jou foto wil in- of uitsluit.
Om nou nie te veel oor vlak en diep te praat nie, want as jy vlak is, is als anders glo diep… ‘n Vlak diepte van veld is altyd goed as jy ‘n onderwerp wil isoleer van die agtergrond en daarvoor maak jy jou lens wyer oop (kleiner F-stop).

Gelukkig het jy nie ‘n bewegende onderwerp nie, so jy kan met ‘n stadiger sluiterspoed ook wegkom as jy die ISO/ASA wil laat sak vir die beste moontlike definisie.
Maar met die nuwe tegnologie in vandag se kamera’s is ISO/ASA-grein nie meer so ‘n groot probleem soos daardie korrels van weleer nie. Toe het ons nie net met ons kamera’s gekorrel nie, maar die korrels het sommer soos hare op ‘n hond se rug op jou foto’s uitgestaan. (En dan kon selfs dít die tekstuur help skep as dit moes…)

Hou die vingers op die knoppies… want net dalk beland daar ‘n 50 randjies in jou maksiespaar….
Geniet en gee jou kreatiwiteit vrye teuels en gee só lewe aan die lewelose….
Tot ‘n volgende keer
J Berto V

“Show up, show up,
show up, and after
a while the muse
shows up, too.
If she doesn’t show
up invited,
eventually she
just shows up.” – Isabel Allende

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

error: © Content is protected !!