Lae lig – Swart en Wit

‘You don’t have to sort of enhance reality. There is nothing stranger than truth.’- Annie Leibovitz

Toerusting is nie als nie. Jy is. Beroemde portretfotograaf Annie Leibovitz sê oor as jou fokus op toerusting en die kamera is wat jy gebruik: “If that is what you are thinking about, you are not taking pictures. When you start off. Stay with one lense and see what it does.”
Fotografie is baie min toerusting en meesal die fotograaf, beplanning en ondervinding. Die beste kamera en lens is die een wat jy vashou.
Veral as dit nie jou professie is nie, geniet fotografie en skiet waarvan jy hou. Só plaas jy jou eie handelsmerk van jou unieke self in daardie kunswerk. Wat jy afneem en die storie wat jy wil vertel… of onthou. As dit eg is, sal dit inderdaad vertel wie JY is.
Fotografie is lig en dit is al wat jy het. Jy moet dit interpreteer en manipuleer. Soms so natuurlik moontlik of soms met al die nodige ekstras of hulpmiddels – selfs ekstra lig – wat nodig is.
As jy dan lig nodig het, is die uitdaging juis soveel groter as daardie lig min is… dikwels heeltemal te min om selfs met die blote oog behoorlik te sien.
Sou jy dit verder neem en alle kleur ook uit jou kunswerk verban (wel jy sou nooit kon nie, want wit en swart is seker ook kleure) en net met wit en swart en die skakerings daarvan werk, is daar nog van jou visuele boustene by die venster uit.

Dit is altyd wys om, selfs met al die beplanning wat jy dalk vooraf gedoen het vir jou foto, te begin deur ‘n foto te neem. Al is dit nie wat jy eintlik wil hê nie. Neem die foto – selfs op jou kamera se volle outomatiese modus. Dit is straks baie greinerig, maar kry die kiekie. As die lig te min is, stel die kamera dat hy maar selfs onderbelig sodat jy dit dan later in redigering kan ligter maak.
In die digitale era en met die nuutste kameras kan jy met al minder lig weg kom en steeds ‘n aanvaarbare kwaliteit kry. Dit is omdat die ISO – die internasionale standaard-skaal vir filmspoed of die hoeveelheid lig wat film (in die ou dae) of die sensor (deesdae) nodig het om die beeld vas te lê – met relatief baie min grein al hoër raak in deesdae se kameras. Baie hoë ISO-verstellings is maar geneig tot grein waarvan ‘n gedeelte gelukkig ook in redigering verminder kan word.

Met hoër ISO kan jy ‘n vinniger sluiterspoed hê as die lig min is. Dit beperk dan weer die risiko van kamerabeweging of onderwerpbeweging. Deesdae is daar ook die tegnologie (soms in die kamera en soms in die lens) van optiese beeldstabiliseerders (IS). Afhangende van die model kan dit ‘n groot hulpmiddel wees om ook beweging of bewe te beperk. ‘n Driepoot is dan maar ononderhandelbaar. Eintlik soveel moontlik, ook in daglig vir landskappe en enige stil onderwerp. Want dan sal jou foto’s skerper wees (met beperkte kamerabeweging) en jy sal net natuurlik geneig wees om ‘n bietjie meer tyd aan komposisie te bestee.
Terug by lae lig en monokroom (swart en wit). Jy sal vind dat daar meesal ‘n ekstra element van drama in jou foto’s bykom as jy monokroom en lae lig kombineer. Want daar is net meer kontras.
Die meeste kameras het ‘n beperking in die lengte wat hul sluiter kan oop bly (dikwels 30 sekondes) in die verskillende outomatiese modusse.
Wanneer jy die sluiter langer as dit wil oophou, het baie kameras ‘n B vir Bulb of T vir Time. Vroeër jare is lug met ‘n pompie (wat amper soos ‘n gloeilamp gelyk het) deur ‘n pypie gedruk om as afstandbeheer te dien. Dit is waar die benaming Bulb vandaan kom.
Die voordeel van Time-modus is dat jy die sluiter kan oopmaak en oop los en dan later weer terugkeer om dit weer te druk om toe te maak. Dit word dikwels in astrofotografie gebruik.

Met Bulb moet jy die knoppie inhou so lank as wat jy die lens wil oophou.
Maar onthou elke keer as jy die knoppie druk of inhou, is daar maar die risiko van beweging.
As jy op enige outomatiese modus neem, is dit wys om ook van die tydsbeheer (“selftimer”) gebruik te maak. Dit neem dan die foto sonder dat jy aan die kamera raak.
So ook kan jy van ‘n afstandbeheer (cable release) gebruik maak om die foto te neem. En die meeste van die afstandbeheerkontroles laat jou ook toe om die sluiter oop te sluit en dan net weer later toe te maak. Sommige kameras kan deesdae ook van jou selfoon af beheer word om ‘n foto te neem.
Die lens wat jy gebruik bepaal natuurlik die hoeveelheid lig wat op ‘n gegewe oomblik deurgelaat word volgens die grootte van die lensopening. Hoe groter die opening, hoe meer lig. Maar dit het weer ‘n impak op die diepte van veld – hoe diep die area is wat in fokus is. Wye lensopening = klein diepte van veld.

Maak maar seker van jou driepoot. Sommige is te wankelrig en hou nie jou kamera stil genoeg nie. As dit moontlik is om iets swaar onder aan jou driepoot te hang, kan dit tot die stewigheid bydra. Onthou ook as jy jou sluiter lank oop hou met sterretjies in die lug, sal daardie sterretjies strepies of strepe raak – afhangende van hoe lank jou sensor belig word.
As die nood druk, kan jy die kamera op ‘n muur of klip of enigiets wat stewig is, ook laat rus, wanneer jy nie ‘n driepoot het nie. Die kamera moet net doodstil wees.
Lae lig en lang beligtings is ideaal vir kreatiwiteit en eksperimentering. Eksperimenteer met jou kamera se M vir manual (handrat). Maar onthou ook maar van die ander manual (handleiding). Probeer seker maak jy ken soveel as moontlik van jou kamera se verstellings en kontroles, want dit kan in die donker nogal moeilik wees om hulle te soek. (Kan nou in die aande bitter koud wees as jy buite neem en wil jy nie onnodige tyd met verstellings mors nie.)

Met lae lig is donker gedeeltes op jou foto’s meesal ‘n gegewe. Die algemene gevoel is dat daar verkieslik nie pikswart kolle sonder definisie moet wees nie en ook nie groot uitgewaste wit kolle sonder definisie nie. (Die mens se oog is maar geneig om deur wit kolle aangetrek te word soos ‘n mot na ‘n kers.) Maar onthou. Dit is smaak en nie almal wat na ‘n foto kyk, gaan dieselfde daaroor voel nie. En neem vir jouself. As ander daarvan hou, is dit ‘n bonus.
Daar is ook ‘n algemene gevoel dat jy met monokroom (S&W)-omskakeling moet probeer om die grootste deel van jou foto in skakerings van grys te hê, met ‘n klein gedeelte spierwit en ook swart. Maar met lae lig as tema, sal meer donker gedeeltes darem seker meer aanvaarbaar wees.

Kantbeligting, anders as reg van voor, kan tot ekstra dimensie en drama bydra. Dit is ook meesal nie heeltemal so oordonderend op jou onderwerp nie. Buitelynbeligting (rim light) van agter ‘n onderwerp kan ook goed werk.
As die sluiter lank genoeg oop is en jou hande is vry, kan jy nie net bestaande lig gebruik nie, maar self met lig gaan verf of net ‘n eksterne ligbron rondskuif om die diep skaduwees uit donker areas te haal. Klein verstellings aan lig of as jy net effe van posisie verander, kan dit ‘n groot impak op jou kunswerk hê.
Wanneer jy uit die hand uit foto’s moet neem, ook in die dag, kan dit ‘n groot verskil maak as jy op of teen iets kan leun. Ook as jy maar altyd jou elmboë voor jou onder die kamera so na as moontlik aan mekaar hou. Dit is gewoonlik die stewigste posisie. Ook kan jy jou asem inhou terwyl jy neem.
Hierdie is ‘n tema uitgeknip vir kreatiwiteit. Gee die kunstenaar in jou vrye teuels. Hou die lens lank, langer en baie lank oop en kyk hoe sien jou kamera goed raak as dit lankal te donker is vir jou oë.


Tot ‘n volgende keer
(dans in die lig)
J Berto V

.

.

.

“You can’t use up creativity. The more you use, the more you have.” Maya Angelou

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

error: © Content is protected !!