Golden Hour – Blue Hour

Ons praat kiekies

“A true photograph need not be explained, nor can it be contained in words.”Ansel Adams

They say every golden hour becomes a photographer’s happy hour, but for me every hour behind my camera is a happy hour.
Daar is ligte lig en daar is donker lig en dan is daar donker donker en ligter donker.
Een aand sê ‘n beoordelaar by die Swartland Fotografieklub hy haal eenvoudig nie sy kamera daar buite uit as dit nie die vroeë of laat ure van die ligdag is nie.
Aanvegbaar en sommige tipe neemkiekie-oomblikke kies nie tyd nie, maar sy opmerking illustreer die punt van ideale lig. En natuurlik is daar ook smaak in ideaal en het blou en geelgoud dalk nie vir almal dieselfde bekoring nie, maar daar het ‘n lig opgegaan toe die uwe die eerste keer werklik ‘n blou-uur-kiekie kon maak.

Kuns kan uiteraard nooit so in blokkies en enkele ure van die dag gegiet wees nie, maar dit is onomwonde so dat daar seker tye van die dag sagter lig en veranderde ligtemperature is. Temperature soos in koud of warm. Blouer en groener of rooier en geler.
Foto’s word nie geneem nie, maar hulle word gemaak (as ek Ansel Adams vryelik kan verAfrikaans) Wel, soms neem jy baie vinnig ‘n foto om ‘n oomblik in tyd te historifiseer. Maar ander kere het jy tyd en dan kan jy meer maak as neem.

As ons vir die oomblik vergeet van sonsondergange en sonsopkoms met ‘n legio skakerings van kleurespel wat dit kan bring, is die uur voor en ná sonsopkoms en ondergang die tydgleuf waarbinne die sogenaamde Golden Hour en Blue Hour val.
En dit is nie altyd ewe lank nie – nie altyd ‘n uur nie. En die graad van goud en blou wissel ook van baie effe na meer intens in hierdie tyd. Maar die atmosfeer kan soms werklik voelbaar wees.
Kenners praat van Golden Hour as die tyd waarin die son binne die 6 grade bo die horison sit. Dit is uiteraard ook wanneer die son die langste skaduwees werp vir daardie waardevolle ekstra visuele boublokke vir kiekies.

Niks kan ooit ononderhandelbaar wees nie en van die heel beste kunswerke is al buite die sogenaamde reëls en riglyne geskep en geneem en …gemaak.
Die beste toerusting (equipment) vir Blue Hour en Golden Hour is altyd dié wat jy (by jou) het, maar daar is beslis ‘n lys wat help, en dit sluit ‘n bietjie kennis in.
Kamera en lens (hoe wyer die lens, hoe meer van daardie blou lug-effek kan jy op jou foto’s insluit). Hoe vinniger jou lens (hoe wyer dit kan oopmaak – kleiner f-stop), hoe meer lig kan dit natuurlik inlaat. Maar as jy ‘n klein f-stop gebruik, onthou net dit beïnvloed weer jou diepte van veld in fokus.

Daardie blou en goud hou nie vir ure nie, so beplanning is kardinaal.
Beplan en wees betyds en gee jou so maksimum tyd om jou foto’s te maak. En onthou as jy blou uur-kiekies skiet, gaan jy amper in die donker daar kom of in die donker weer vertrek. So gee jouself tyd en dan kan jy jou foto nog beter beplan. As dit donker raak, raak dit ook moeilik vir jou kamer om te fokus. Hou dit in gedagte. Jy kan selfs na handfokus oorskakel en só beter resultate kry as ‘n kamera wat heeltyd fokussoekend spring en jou frustreer.
Dit werk om in die dorp of stad te neem. Daar is soms ander lig wat interessant teen die blou kontrasteer. ‘n Gebou of anker soos ‘n boom of ander silhoeët is ook ‘n sterk fokuspunt. As dit later in die blou uur is, kan jy met ekstra invullig op ‘n onderwerp speel, vir daardie bykomende element.
‘n Driepoot is amper ononderhandelbaar. Hoe later hoe kwater en hoe moeiliker gaan jy sonder ‘n driepoot wegkom.

Die algemene riglyn is om sover moontlik ‘n lae ASA (ISO) te gebruik in fotografie om sodoende die beste kwaliteit te kry. Ja, dinge het baie verander sedert die filmera en tegnologie verbeter algaande sodat die korreltjie-grein wat hoër ASA in die digitale era gee, al minder raak. Dit bly egter steeds die beste om eerder lae as hoë ASA te gebruik. Maar as die lig te min raak en jou sluiter te lank oop bly en jy wil of kan nie jou lense wyer oop maak nie, is ‘n hoër ASA wel nodig. Neem dan liewer teen ‘n hoër ASA as ‘n foto wat “blur” as gevolg van ‘n te lae sluiterspoed. (‘n Algemene riglyn was ook nog altyd om ‘n sluiterspoed van vinniger as 1 oor jou brandpuntafstand – “zoom” in mm – te gebruik). Maar met Blue Hour is die lig dikwels net te min. En onthou die skermpie van jou kamera is dikwels te klein om daardie bewe te sien. En dan kom jou groot teleurstelling as jy opgewonde die foto’s by die huis wil kyk.
En dit is waar ‘n stewige driepoot die ding gaan doen en daardie beperkings help uitskakel.

Ja, selfs op ‘n driepoot kan jy nog kamerabeweging kry. Onthou die driepoot is eintlik jou dooie rus om jou sluiter lank oop te kan hou vir daardie laer lig en vir daardie voller kleure. As daar ‘n bietjie wind is, kan jy iets swaar aan jou driepoot probeer hang om dit stewiger te anker en dan is dit ook baie wys om met ‘n afstandkontrole aan jou kamera te neem om te verhoed dat jou druk van die knoppie die bewe veroorsaak. As jou sluiter lank oop is, kan die geringste trilling jou foto laat bewe.
As jy nie ‘n afstandbeheer het nie, probeer die tydkontrole (timer) soos vir ‘n selfie. Daar is dikwels ‘n opsie vir 2 sekondes of 10 sekondes voor die foto geneem word. My ondervinding is dat die 10 sekondes die beste is as jou onderwerp staties is.

Dit is ook wys om met sogenaamde “bracketing” te eksperimenteer. Dus bietjie onderbelig en oorbelig ook. Baie kameras het deesdae so ‘n opsie. Dan neem dit sommer vir jou drie of selfs meer foto’s. Die voordeel daarvan is dat jy ná die tyd in redigering foto’s kan saamvoeg of net ekstra opsies het in daardie donkerder en ligter dele van die foto. Want water onder die brug is verby. Verspeelde kanse. Onthou die lig verander relatief vinnig. Raak ligter of donkerder – en is dit belangrik om jou verstellings aan te pas.
In redigering is daar altyd die risiko van oorversadigde kleure. Waak maar daarteen. Jou smaak is al wat saak maak, maar onthou as jy redigeer en vir lank met dieselfde kleure werk, kan jy perspektief op die kleur verloor. Neem ‘n blaaskans en kom weer terug. Dan is die kleure dalk net te veel vir jou eie smaak ook.
Met Golden Hour neem jy ook dikwels landskappe af. Hier speel diepte van veld ‘n groot rol. As jy nie vir ‘n spesifieke rede slegs ‘n baie klein deel van die landskap in fokus wil hê nie, probeer ‘n lensopening van 8 of groter in getal (kleiner in opening). Fokus dan ook, sê landskapfotograwe, omtrent een derde in op jou foto. Dit sal ‘n goeie diepte van veld gee.

Tydens die Golden Hour het die lig wisselende vlakke van geel skynsels en jy kan dit gebruik as jy mense ook wil afneem. Self as jy hulle in vol skaduwee afneem, is die lig baie sagter en vleiender. Velkleur kan altyn in redigering weer effe aangepas word na smaak.
Daar is heelparty toeps vir selfone om te kyk na die son en die maan se siklusse en ook wanneer die goue en blou ure is.
As jou kamera ‘n RAW-funksie het, gebruik dit. Selfs al skiet jy in RAW en jpeg. Ja, dit gebruik meer kaartspasie, maar daar is net soveel meer fyner besonderhede wat jy weer uit die RAW-foto kan haal wat verlore is in die jpeg. Veral in die skaduwees of sels in die effe oorbeligte areas.
Onthou maar ook ‘n warm baadjie as jy in die aand gaan skiet. Dit kan baie vinnig koud word as die son gesak het. En met die beste bedoelings kan jou koffie dan yskoud wees…
En dan neem jy straks kiekies tot jy blou word…

Al is dit nou grendeltyd.

Jy kan selfs by jou huis neem. Skiet en geniet elke goue en bloue uur…

Tot ‘n volgende keer
Kiekiegroete
JBertoV

Leave a Comment

Your email address will not be published.